In elke verhouding bestaan daar ’n verwagting dat die partye vir mekaar klippe uit die pad sal rol, maar in die geval van Radium Engineering en die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch, het hierdie sentiment ’n letterlike betekenis gekry.
Radium Engineering, ’n familiebesigheid gebaseer in die noorde van die land, het onlangs ’n Schulte Kliphark en Klipopteller aan die US geskenk en hierdie twee werktuie se vermoëns op die Roodebloem-proefplaas naby Caledon ten toon gestel.
Volgens Gareth Roest, Verkopedirekteur van Radium Engineering, is hierdie klipverwyderingmasjinerie onlangs vir die eerste keer na Suid-Afrika ingevoer, hoewel dit reeds jare lank deur boere oor die wêreld heen gebruik word. Hierdie spesifieke werktuie word van Kanada af ingevoer.
“Die Kliphark en Klipopteller verminder arbeidtyd en -koste wanneer lande voorberei word. Omdat die klippe verwyder word, is daar ook minder skade aan masjinerie,” het Roest gesê.
As gevolg van die stygende koste van hande-arbeid die afgelope paar jaar het meganiese klip- en rotsverwydering ’n kritieke deel van boerdery geword. Die lewensduur van ander masjinerie word ook verleng.
Die roterende kliphark is ontwerp om klein tot medium klippe (5cm-69cm) in rye saam te hoop. Wortels, stompe en stukke hout kan ook so verwyder word. Nadat die klippe in rye opgehoop is, versamel die klipopteller die klippe in ’n vangbak en vervoer hulle van die land af.
Radium Engineering het ongeveer ’n jaar gelede begin om die masjinerie te gebruik en Roest het gesê hulle sien uit daarna om terugvoering te ontvang.
“Ons wil hê mense moet bewus wees van die tegnologie wat in Suid-Afrika beskikbaar is en wat die lewe makliker kan maak,” het hy verduidelik.
Hy het beklemtoon dat dit deel van hul maatskappy se beleid is om terug te gee aan die gemeenskap en dat hierdie skenking die begin van ’n wedersyds voordelige verhouding tussen Radium Engineering en die Universiteit Stellenbosch kan wees.
“Ons maak staat op die universiteit en die navorsing wat daar gedoen word,” het hy gesê.
Prof Nick Kotze, voorsitter van die Departement Agronomie in die Fakulteit Agriwetenskappe, het gesê die kliphark en -opteller sal gebruik word om die departement se verskillende proefpersele voor te berei.
“Dit sal ons baie tyd spaar,” het hy bygevoeg.
Die Departement Agronomie beywer homself om navorsing oor bedryfspeksifieke kwessies te doen en te poog om aan die landbougemeenskap antwoorde op hul spesifieke probleme te gee wat gebaseer is op wetenskaplike proewe.
Hulle kan Radium Engineering onder meer help om die impak van die masjinerie te kwantifiseer.
Die Schulte Klipopteller
Die Schulte Kliphark
Prof Nick Kotze, voorsitter van die Departement Agronomie by die US, en Gareth Roest, verkopedirekteur van Radium Engineering, by die Schulte Klipopteller.
Vir meer inligting, kontak:
Prof Nick Kotze
Departementshoof: Agronomie
Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch
083 461 6670 / 021 808 4003
nkotze@sun.ac.za
You must be logged in to post a comment.